Wat is Downsindroom?
Downsindroom is ’n toestand wat voorkom as ’n mens ’n ekstra chromosoom het.
Chromosome is klein “pakkies” gene in die liggaam. Hulle bepaal hoe ’n baba se liggaam tydens swangerskap vorm en hoe die baba se liggaam funksioneer wanneer dit in die baarmoeder en ná geboorte groei. ’n Baba word tipies met 46 chromosome gebore.
Babas met Downsindroom het ’n ekstra stel van een van hierdie chromosome, naamlik chromosoom 21. Hierdie ekstra stel verander hoe die baba se liggaam en brein ontwikkel, wat verstandelike en fisiese uitdagings vir die baba kan inhou.
Alhoewel mense met Downsindroom dalk dieselfde kan lyk of optree, het elke persoon ander vermoëns. Mense met Downsindroom het gewoonlik ’n effens laer tot matige lae IK (maatstaf vir intelligensie) en neem langer as ander kinders om te leer praat.
Algemene fisiese kenmerke van Downsindroom sluit in:
• ’n plat gesig, veral die brug van die neus;
• amandelvormige oë wat skuins na bo strek;
• ’n kort nek;
• klein ore;
• ’n tong wat geneig is om by die mond uit te steek;
• klein hande en voete;
• swak spiertonus of slap gewrigte, en hulle is korter as ander kinders en volwassenes.
Downsindroom is ’n lewenslange toestand. Hulpdienste vroeg in die lewe sal dikwels bydra om babas en kinders met Downsindroom se fisiese en intellektuele vermoëns te verbeter. Die meeste van hierdie hulpdienste fokus daarop om kinders met Downsindroom te help om hulle volle potensiaal te bereik. Hierdie hulpdienste sluit spraak-, arbeids-en fisioterapie in en word tipies deur vroeë tussenkomsprogramme regoor die land aangebied. Kinders met Downsindroom kan ook ekstra hulp of aandag in die skool nodig hê, alhoewel baie kinders in gewone klasse is.