In Swellendam draf-stap oud en jonk en geniet elke oomblik
Saterdag, 13 November was Swellendam se strate weer die ene bedrywigheid met talle vrolike en glimlaggende deelnemers aan die Swellendam Sports festival waarna daar al geruime tyd reikhalsend uitgesien is. Die geleentheid is deur opvoeders beskryf as die heel laaste groot pret geleentheid voordat leerders by skole in die heel laaste pylvlek van die 2021 skooljaar begin inbeweeg.
Die Sportfees volg kort op die hakke van nog 'n pret geleentheid, die maandlange kankerbewusmakings inisiatief waartydens inwoners gedurende Oktobermaand weekliks op Donderdae, getooi in iets pienk, deur die dorp gaan draf of stap het ter ondersteuning van borskanker.
n Prettige oefenlopie met die oog op 'n “normale” 2022 sportjaar
Dit was veral leerders en opvoeders van plaaslike skole en ook ouers, sou hulle die uitdaging wou aanvaar, wat deelgeneem het aan die Sportfees. Daar was egter ook besoekers wat van die geleentheid gebruik gemaak het om te kom inloer en hulle is, na wat verneem is, oorgehaal om volgende jaar weer so te maak.
Nommers, reëls en regulasies en geskenkpakke kon die dag voor die tyd by die stadsaal afgehaal word sodat alles die volgende dag ordelik en vlot sou kon verloop. Daar was verskillende afstande waarvoor ingeskryf kon word van die 5 km pretdraf of - stap tot by die langer afstande met 'n 14 en 24 km “trail run” vir meer ondernemende deelnemers. Hulle kon dan sommer ook Swellendam se natuurskoon bewonder.
Leerders geniet en kompeteer
Leerders van plaaslike skole het van die geleentheid gebruik gemaak om in te haal wat verlore gegaan het in terme van skolesport aan die begin van die jaar. Die vinniges onder hulle het in aanmerking gekom vir pryse en het sommer 'n voorsmakie gekry van wat wag in 2022 as almal mooi saamspeel en die COVID-19 spook ver weghou sodat sportgeleenthede wel soos gewoonlik kan voortgaan.